PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (1)

 'n Pelgrimstog deur die strate van Parys, Frankryk. Ek het die afgelope vier jaar die onbeskryflike voorreg gehad om meer as een keer 'n paar dae deur hierdie pragtige stad se strate te stap en is diep getref deur die geskiedenis, drama, vreugde en tragedie wat daarin afgespeel het. In die proses het ek wonderlike ervarings van die Here Jesus gehad soos ek Hom gesoek en gesien het in die stories en plekke waarin ek myself bevind het. Dit het geword, WIE sien ek daar, eerder as WAT sien ek daar.

Ek nooi jou om dit met my te deel en saam te probeer dieper verstaan hoe Hy ons roep tot dissipelskap en stuur om ons wêreld te verander deur (sodat) Sy Koninkryk te laat (kan) kom

Arc de Triomphe - Ave de Champs Elysees


Aan die bopunt van die pragtige Champs Elysees staan hierdie massiewe gedenkteken van Napoleon Bonaparte. Hy het die konstruksie laat begin in 1806 na een van sy roemryke oorwinnings, ter ere van sy heldedade in oorlog en sy beste mede-soldate. Die name van 660 generaals is op die mure aangebring. die wat in veldslae gesterf het se name is onderstreep. Die monument staan op 'n sirkel waar 12 strate bymekaarkom, wat 'n byna onmoontlike georganiseerde chaos veroorsaak. Die ongeveer 50m hoog en 45m wyd. Die "Arc" is nie in Napoleon se leeftyd voltooi nie, en is eers in 1836, na sy dood voltooi. Dit is 'n majestieuse huldeblyk wat jaarliks miljoene besoekers van regoor die aarde lok.

My gedagtes - Waarvoor leef jy?

Wanneer 'n mens onder die "Arc" staan raak 'n mens bewus daarvan dat die name op die monument nie sigbaar is op die meeste fotos wat 'n mens van die monument sien nie. Die name het my verras en ek het besef, dit is almal werklike mense wat op 'n manier hulle lewens geoffer het ter wille van die dapper klein diktator, Napoleon.

Ek wonder toe by myself. Wat maak dat mense bereid is om hulle lewe te gee vir 'n saak of persoon. Nie net daarvoor te sterf nie, maar daarvoor te LEEF? Dit kan tog seker nie net wees dat 'n mens jou naam op n klipmuur wil sien, lank nadat jy dood is nie? Daar moet seker meer wees as dit?

En ek raak vir 'n oomblik yskoud en doodstil, terwyl die malende mensemassa toeriste rondom my stroom en die konstante tsunami motors om die eiland maal. Ek wonder: "Is dit hoe ek Jesus volg? Is dit die vlak van my verbintenis aan hom?"

Hy is nie 'n aardse heerser, koning of president nie. Hy is die Seun van die lewende God wat my roep as volgeling. Om te gaan waar Hy gaan, en in sy veldslae te veg .... elke dag, waar ek loop en lewe.

Vir 'n oomblik is ek skaam, oor my eie halfhartigheid. Ja Here, bid ek, U nooi my soveel keer per dag om met oorgawe myself in U stryd te werp. Ek staan soveel keer terug. Elke keer kyk U weer terug en wink. Sonder verwyt en oordeel. Ek wil U volg met oorgawe ... soos hierdie soldate hulle lewe gegee het, soveel te meer wil ek vir U lewe.

'n Skrifgedeelte

Lukas 9:18 - 27

18 Op ’n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?” 19 Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: ’n profeet van die ou tyd het opgestaan.” 20 “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.” 21 Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel, 22 “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.” 23 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, 24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. 25 “Wat help dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? 26 Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. 27 Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”

Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

Die vraag

Volg ek Jesus met oorgawe en diep verbintenis, soos 'n betroubare soldaat sy Generaal?


Views: 178

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Chris Homan op 30 April 2012 om 12:58

Ek poog om die Here getrou te volg, maar soms struikel ek en dan weet ek ek kan myself net in die Here se hande los en Hy bring wonderlike mense oor jou pad wat jou laat besef dat daar nog 'n doel vir jou op aarde is. Soms is daar stomheid wat oor my kom en dan struikel ek deur te voel dit is nie my plek om iets te se nie, maar as die Here elke keer as ek struikel met stomheid na my kind en nie my ophelp nie wat is my doel dan op aarde.

Dabn wil ek soos die verlore seun se ek het gesondig.  Ek sal om vergifnis vra en volgende keer die krag van die Here gebruik om Hom met oorgawe te aanbiden as sy wertuig op te tree.  Hoe moeilik kan dit dan wees om soveel liefde met ander te kan deel sodat hulkle ook die Here se liefde kan ervaar.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service