PvR Gemeenskapskerk

 

Verlede week sit ek en Hester In die Sacre Coeur Katedraal in Montmartre in die hartjie van Parys. Dis 'n pragtige katedraal met ongelooflike beeldhouwerke, dakskilderye en verbysterende argitektuur. Die naam beteken "Sacred Heart" en verwys na Jesus se hart. Dit is opgerig as 'n gelofte aan die Here na 'n intense fase van konflik en oorlog in Parys waarin duisende mense gesterf het en staan as monument van die regering van die 1870's se ferm keuse tot 'n meer morele samelewing

Ons het met die Metro gery tot hier, en die onvoorspelbaarheid van die "ondergrondse Parys" trotseer. Dit was 'n lekker ervaring en ons was weereens onder die indruk van die uiters diverse, malende mensemassa. Soveel verskillende gesigte van Parys. Later meer daaroor.

Maar terug na die katedraal. Na die Notre Dame is dit vir ons byna net so indrukwekkend. Maar ek sit en wonder tog oor ons mense se manier om Jesus deel te maak van die magspel in ons wereld.  

Geestelike simbole vir die regering van die dag se agenda. Met Jesus deelgemaak van daardie agenda. Om dit legitiem of aanvaarbaar te maak? Hoekom wil ons groot magtige geboue bou? Tot eer van Jesus, of eerder tot eer van onsself, om die evangelie daardie ekstra "stukrag" te gee. Asof die "dunamis" van die gees van Christus nie reeds genoeg nie?

Hoe het ons die eenvoudige, magsgestroopte boodskap van Christus nie verwring om ons te pas nie. Geloof is nie katedrale en majestieuse gebare nie. Dit is nie "bigger, better, bolder" nie. Dit is onwrikbare, nederige, brose, oorgegewe vertroue in die opgestane Heer.

Terwyl ek so sit en wonder is ons deel van die bediening van die Mis (die Rooms-Katolieke Nagmaal). Ek word aangedaan deur die hordes mense wat deelneem aan die diens. Gewone werkende Parysenaars wat ingeglip het vir die diens, op hulle kniee, diep in gebed en toewyding. Ek kry skaam vir my soms onnadenkende, kritiese deelwees van 'n erediens.

 Terwyl die priester voor die Mis instel is daar ook honderde toeriste wat rondom die aanbiddingsruimte beweeg, en ek wonder weer. Het Jesus 'n toeskouersport geword waaraan net die ingewydes deelneem? Of is Jesus se boodskap een van persoonlike navolging? Ek dink die Woord leer ons laasgenoemde. Om Jesus te volg vra meer as 'n stukkie van my lewe. Dit vra ook minder as wat ons soms dink. Ek hoef nie aan te plak en voor te gee nie. Ek hoef nie wereldse sjarme, erkenning of prag te besit nie. Jesus vra net onsself, maar ons hele self.

 Maar deur dit alles word ek aangeraak en inspireer deur die mense rondom my se toewyding en erns. Medegelowiges, familielede...broers en susters in die geloof. En ek gaan ook op my kniee en se dankie vir die voorreg om Jesus te volg.

Dis Sy uitnodiging aan Sy volgelinge. Dis ook my uitnodiging aan jou .... volg my soos (en as) ek Christus volg.

 

Hollandse groete

 

Views: 79

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 8 April 2011 om 14:36
Dit is nogal ongelooflik hoe sulke ervarings mens perspektief gee - oor jouself en die kerk. Ek onthou toe ons laasjaar gelukkig genoeg was om 'n erediens in St Paul's Cathedral te kon bywoon - ek het van begin tot einde getjank. Om iets te beleef van die groot en lang geskiedenis van die kerk, van die mosaiek wat die mense en tradisies van die kerk is. Dit gee mens die groter prentjie en herinner mens net weer aan hoe groot God se genade is.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service