PvR Gemeenskapskerk

Sinode - Artikel 1: My (onderbreekte) belydenissie

Vanoggend in die geskiedkundige Oostelike Sinode van 2014 was ek besig om 'n paar gedagtes te deel in die gesprek oor Artikel 1, toe blaas my selfopgelegde tyd-toetertjie. Party kollegas het bietjie lank aangegaan, het ek gedink, toe stop ek myself maar eers net daar. Hier is wat ek amper klaargesê het.

Vyf belydenisse oor Artikel 1 en die Belhar gesprek.

Een.

Ek was oppad skool toe met my jongste, toe ek die nuus hoor. Die NG Kerk het 'n simboliese eerste treë gegee by haar Algemene Sinode, wat die moontlikheid open dat die Belhar belydenis op een of ander wyse deel kon word van ons Belydenisgrondslag. Ek was heel onverklaarbaar oorbluf. Toe kom die trane en 'n gevoel van verligting en dankbaarheid. Ek was uit die veld geslaan (met myself) omdat ek so onverwags uitgeboul was met iets wat min tot geen kopspasie by my opgeneem het.

So in die ry probeer ek die vreemde sensasie ontsyfer. Waarom was ek so vreemd dankbaar-bly? My verassende insig? Ek was skaam vir my kerk. Al dertig jaar lank. Sonder dat ek eers geweet het. Die skaamte was onverwags besig om uit my uit te sypel, soos 'n sweer wat oopgebars het. In die plek daarvan, 'n begeerte om die wêreld in die oë te kyk. Omdat ek kan. Ek wou met Micardo gesels, en Reggie. Ek wou kuier saam met Joseph, Thulani, Mandla en die ander Soweto manne. Dit sou anders wees, want die skaamte was besig om te lek.

Ek wou dadelik kerkgebou toe ry en sommer net by Sipho, Colbert, Nora en Fiena gaan sit. Ek wou met Anna en Nellie 'n verspotte draaitjie dans in die kombuis. Hulle wat met soveel lydsaamheid by ons gemeente en in ons huis werk. Al strompel ons so oor onsself. Ek wou sommer net saam met hulle wees, omdat dit anders was, en ek, nuwer as nounou.

Twee.

Ek het in die Vrystaat grootgeword. In die platteland. Afrikaner hartland. Apartheid aardsland. Niks fout met die Vrystaat nie, dis my hartswêreld. Ek het egter ook in daardie tyd my rassisme en vooroordeel met moedersmelk ingekry en geleer wie ek is, en wie "hulle" is. Die afgelope dertig jaar het daardie idilliese illusie van my kinderdae vervaag en weggesterf. Ek het op 'n manier plekloos en storieloos geword. My toekoms is van my weggeneem deur die "swart gevaar." Ja, die rassisme van my kinderdae is wesenlik aan my. Die kwaad, die verlies, die vrees, frustrasie, verbittering en selfsug is alles ook op 'n manier deel van my storie.

Maar, hier is wat ek weet. Die Here skenk genesing van hierdie seerkry-sondes. Ek het nie die reg om die reste van my rassisme, verbittering, woede en selfsug netjies 'n 'n teologiese of ideologiese kleed te omvou en te paradeer, as 'n soort lyfwag wat myself en ander moet weghou van my stukkende storie nie. Christus roep my om dit te bely en Hom  toe te laat om die Balsem van Gilead te wees, in my wonde. Ook my wonde te wys, soos Hy. Dat die Opstandingskrag sigbaar word. Sodat ek familie kan wees, van Sy mense, wat my mense is.

Drie.

Altyd gehoor ek is 'n stadspredikant. Gehoor ek verstaan nie die unieke uitdagings van die platteland nie. Waar Belhar 'n Brandpunt is. Waar mense digby die snykant van ons land se skurwe agterstewe leef. Ek weet nie hoe dit regtig is nie.

Ek was verkeerd. Dis nie waar nie. Ek weet. Ek en die mense wat ek liefhet skraap ook rou aan daardie skurwe agterwêreld. Ja, ons kerkplekke lyk indrukwekkend, maar dis groen droogte,

Ons worstel ook maar maand tot maand om al die gate toe te stop. Ek ervaar byna elke dag die trauma van 'n verlore werk, 'n gesteelde geleentheid, 'n verpletterde droom. Ek kyk ook in die oë van vreemdgeraaktes, korrupsie slagoffers, misdaadoorlewendes, wanbestuurdes, woedendes, oornag-armes, gebrokenes, worstelendes, lydendes. Deel sitplekke met briljante mense wat genadebrood moet eet. Ontnugterde jongmense wat hoop dat hulle hulle drome oorleef. Ek leef in dieselfde land. Ek is een van h(j)ulle. Ek verstaan dat die Belhar gesprek, vir baie van diesulkes 'n brandwond is. Ek moet ook die brandwond Balsem dra, vir genesing. Na onwillige pasiënte. Ek weet.

Vier.

Leierskap is moeilik. Dis 'n voorreg. 'n Geskenk. Maar dis swaar om te dra. 

Het ek as kerk"leier" so afgestomp en leidingloos geraak dat ek nie leierskap kan raaksien nie. Selfs al tref dit my soos 'n voorhamer. Dat ek die voorganger beskuldig van manipulasie, geesdrywery, bombasme of wat ookal. Ek haak in by hom op die eerste aand. Bid vir my, sê hy. Dit is 'n moeilike aand. Hy bring toe die swaar woord. Vrymoedig, passievol en met deernis. Die weerstand wat ek voel? Wel, dis amper die enigste bewys dat daar leierskap beoefen word. Weerstand. Sonder weerstand lei ek nie. Dan is ek besig met vermaaklikheid. God roep my (ons) om te lei. Ly sal ons lei.

So ek sal van hier gaan na die mense wat ek liefhet. Ek sal gaan lei, en ek sal ly. Soos my Here my gewys het. Al is my deel daarvan net 'n splintertjie.

Vyf.

Watter kerk laat ek vir my kinders na? Is dit 'n kerk waaruit ek met groot (onbewuste) gemak en sekerheid begrawe kan word? Of is dit 'n kerk waarin my kinders en kleinkinders in hierdie land 'n geestelike tuiste kan vind. Waaruit hulle kan leef en loof. Waar hulle met Verwondering, in Verhoudings Jesus kan Volg. Ek bely dat laasgenoemde is waarvoor ek geroep is.

Dis waarom ek saamstap op die Artikel 1.Belhar gesprek. Dis onvolmaak, gebroke en onseker. Ek glo dat dit ons 'n goeie kans gee as Kerk. Ek glo dat my 'n kans gee om saam met my Geloofsfamilie in Suid-Afrika te droom en streef, en dalk net, te Leef.

Jan Venter

 

Views: 322

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service