PvR Gemeenskapskerk

Sonder mekaar kan ons nooit onsself wees nie.

Hier is nou 'n lekker groot woord. Interafhanklikheid. Skrywers en denkers deur die eeue het hieroor nagedink. Snaaks genoeg het Karl Marx die eerste keer die woord gebruik in sy "Communist Manifesto" in 1848. In 1944 het Will Durant 'n "Declaration of Interdependence' geskryf, maar in die moderne tyd het die skrywer Stephen Covey vir ons 'n goeie stukkie filosofie hieroor gegee.

Covey se benadering is dat ons as mense behoort te groei van afhanklikheid (as babas en kinders wat nie op hule eie kan leef nie) na onafhanklikheid (waar ons emosioneel, intellektueel en andersins op ons eie voete kan staan). Die werklike kuns van die lewe, volgens Covey, is egter om te groei na interafhanklikheid. Volgens hom is dit 'n keuse wat net mense het wat onafhanklikheid bereik het, afhanklike mense het nie daardie keuse nie. Wanneer ons in interafhanklikheid leef, kan ons meer wees as wanneer ons solo-onafhanklik leef. Want in ons saamwees word ons meer as in ons alleenwees.

So hoe is dit dan om interafhanklik te wees? Ek dink dis 'n paar dinge. Ek dink dat dit beteken dat ek 'n diep bewustheid ontwikkel van my "konneksie". Met God, met die natuur en kosmos, met ander mense in verhoudings. Eers as ek verstaan dat ek alleen kan, maar nie wil nie.... dat ek alleen goed is, maar nie groot nie, dan begin ek regtig leef.

Ek sit vanoggend op die dek van Len Sweet se huis op Orcas en ervaar my interafhanklikheid as amper 'n pynlike bewustheid. Rondom my is die onbeskryflike mooi natuurskoon waardeur ek omring is, en waarvan ek deel is. Dis vreemde bome, struike en landskappe, maar ek is binne-in dit, en deel daarvan. Dit maak dat ek kan wees.

Ek is ook aangedaan oor die voorreg van my vriendskappe en familieverhoudings. Ek is ook diep bewus van die voorreg van deelwees van my selgroep en geloofsfamilie en die ongelooflike rykdom van verhoudings wat ek steeds elke dag ontdek en beleef.

Behalwe dit ervaar ek ook 'n diep dankbaarheid vir my (soms gebroke) verhoudings met mense wat ek teurgestel het, kwaadgemaak het of selfs seergemaak het. Min hiervan is deur my boosheid en veel eerder deur my swakheid. Elkeen van hierdie verhoudings is ook deel van my en herinner my aan my gebrokenheid (interafhanklikheid) en selfs wanneer ek aangevat, gekritiseer of selfs gekruisig word, herinner ek myself daaraan dat dit 'n stem in my lewe is wat my slyp, vorm en nederig hou. Ek is ook wie ek is in verhouding met my "vyande" en kritici.

Ek is gevorm en gemaak in die verhoudings van my lewe. Ek is wie ek is, omdat ander in my lewe is. En ek in ander se lewe is.

In die Nuwe Testament is daar skrifgedeeltes wat bekend staan as die "mekaar-tekste" Kyk hier vir 'n lys daarvan. Hierdie tekste help ons om te verstaan dat ons "interafhanklik" geskep is. Dat ons daar is vir mekaar, en daar is as gevolg van mekaar. 

Deel van ons droom as geloofsfamilie is dat ons wil KIES om in HELENDE VERHOUDINGS met MEKAAR en ALLE ANDER te wees. Waarskynlik beteken dit dat ons sal moet groei na interafhanklikheid. Wat dit beslis beteken is dat ons sal toelaat dat Christus ons menswees so radikaal binnedring deur die Heilige Gees, dat Hy ons transformeer (vernuwe) sodat ons werklik mens kan word. Sodat ons kan begin wyer kyk as ons eie staanplek in die lewe en kan begin ontdek dat ek spasie deel met ander, en dat ek net kan staan omdat ander langs my staan.

Ek nooi jou om deel te word van die ontdekkingstog. In die proses waarin ons Christus ontdek en leef, word ons wie ons bedoel is om te wees, in die oe en harte van ander. 

Dis waar ek wil wees ... wat van jou?

 

Views: 392

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Ferdie Mulder op 2 Augustus 2011 om 19:09

Jan, ek deel jou ervaring wat hierdie deel betref: "wanneer ek aangevat, gekritiseer of selfs gekruisig word, herinner ek myself daaraan dat dit 'n stem in my lewe is wat my slyp, vorm en nederig hou. Ek is ook wie ek is in verhouding met my "vyande" en kritici".

Geniet Amerika!

Ferdie

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service