PvR Gemeenskapskerk

Stephan Joubert het die Andrew Murray-prys vir sy boek: Jesus - 'n radikale sprong gewen.


Die volgende artikel het in die Burger van 9 April 2010 verskyn:

Die Andrew Murray-prys vir die beste Afrikaanse Christelike boek is vanjaar gewen deur Stephan Joubert vir sy werk "Jesus, ’n Radikale Sprong" (CUM).
Die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir die beste Christelike of teologiese boek in ’n amptelike taal van Suid-Afrika is Paddy Kearney vir "Guardian of the Light - the Biography of Denis Hurley" (KwaZulu-Natal University Press).
Die beoordelaars vir die Andrew Murray-prys was dr. Pieter van Niekerk, VGK-predikant van Friemersheim, Elize Parker, skrywer en boekeredakteur van die tydskrif Lééf, en mnr. Christo van der Rheede, direkteur van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans.
In ’n mediaverklaring wys hulle daarop dat Joubert die leser nooi om radikaal ánders oor Jesus te dink - dan sal ook nuut oor die kerk gedink kan word.
Joubert was voorheen professor in die Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria, predikant van die Afrikaanse Christenkerk in Auckland, Nieu-Seeland, en is tans tentmaker-predikant van die NG gemeente Pierre van Ryneveld en ’n voorloper met elektroniese bediening. Hy skryf daagliks die rubriek Goeie Nuus in die dagblad Beeld.
Die naaswenner is die Christelike Kernensiklopedie, uitgegee deur Lux Verbi.BM. Vanjaar is 28 boeke deur 10 uitgewers vir die Andrew Murray-prys ingeskryf. Die beoordelaars vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys was hoogeerw. Rowan Smith, dekaan van die St.George-katedraal (Kaapstad), dr. Spiwo Xapile, predikant van die Verenigende Presbiteriaanse Kerk, Guguletu, en Amanda Botha, ’n joernalis en skrywer. Volgens hulle is Kearney se biografie oor wyle aartsbiskop Denis Hurley en sy stryd teen apartheid ’n kragtige werk wat ook vir ons tyd iets te sê het.
Die naaswenner is Focussing on the Message onder redaksie van Andrie du Toit.
Die pryse bedra elk R12 000, ’n goue penning of trofee en ’n oorkonde. Dit sal in Mei aan die wenners oorhandig word.

Views: 387

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service