PvR Gemeenskapskerk

Gister was amper 'n tipiese Sondag in my lewe.

Oggendkerk, gevul met lekker lewendige gesprekke met die mense van ons Geloofsfamilie. Henk op sy stukke agter die Woord en heerlike lofprysing.

Die res van die dag is ek 'n trotse man en pa wat saam met my vrou en dogters bou aan 'n eerste wildspastei. Neline is by die huis en ons werk al die hele naweek aan die sakkie bene wat pastei moet word. Elmarie "Coach" my deur die voorbereiding en die res van die gesin span saam om die middagete spesiaal te maak. "Tweede Vadersdag" onthou ek die woorde op my kaartjie laas Sondag. Neline was mos nie hier nie.

So loop die dag na die aanddiens toe. Stukkie fietsry om Saterdag se stywe klimsessie uit die bene te kry en toe weer 'n verassende ervaring met 'n "proplose" orkes en 'n besielende boodskap van Herman. Vroegmiddag al het ons al gedink om 'n laataand koffie te gaan doen, êrens in die dorp. Tessa is by die kerk vir die vakansieprogram en so gesê, so gedaan. Na kerk staan die res van ons reg om te gaan, opge"dress" vir die koue. Opgewonde.

Toe lui die telefoon. Soos 'n "doomnie" se telefoon kan lui.

"Jan, hier staan 'n man by die kerk se hek. Hy soek 'n predikant". My dames is ervare. "Ek gaan net gou hoor wat dit is", sê ek. Maar ek weet reeds. Hulle ook.

Ek kry vir Gerhard langs die sekuriteitsman se hokkie. Kort, swaarkry skraal, netjiese grys baard en hare. Maar ek kan die lewe se spore diep op sy wange gekerf sien. In die halfdonker.

"Goeienaand", groet hy my vriendelik en welsprekend. Hy verduidelik sy posisie. Van sy suster in Boksburg waarvandaan hy oppad is. Na sy seuns in Pretoria-Wes, daar naby die Spar. Of ons nie dalk 'n oornagplek het nie. Net vir die aand. More stap hy verder. Ek sien uit die hoek van my oog, die span vir die week se kinderprogram krioel by die kerk. Vinnig dink help nie. Daar is nie plek nie. Ek verduidelik vir hom, en sien vir Josef en Maria voor my.

Waarheen is jy oppad? Waar woon jou seuns? Vinnig dink. Klaar besluit.

"Kan ek jou dalk wegvat na hulle toe? Nee, ek is nie oppad daarheen nie, maar ek is oppad om te ry, in elk geval. Kan net sowel Pretoria-Wes omry Brooklyn toe." Hy knik dankbaar. Ek is nie heeltemal seker of dit 'n goeie idee is nie. Maar daar is dit nou.

Die dames val in by die plan. Hulle is maklik op daardie manier. Die drie van hulle vat die agterbank. Ek en Gerhard voor. Ons gesels rustig terwyl ons deur Lyttelton se donker ry. "Hoeveel predikante is julle daar"?; vra Gerhard. Ek vertel hom. Ja nee, sê hy, sy eks-vrou het daar in Pierre van Ryneveld gebly. Nee, verduidelik hy, hy was self 'n kapelaan op 'n stadium. By die Weermag. By die "Genadeplaas". Ek vra uit oor die plek wat ek nie ken nie. Die detail is skraps, maar ek wonder hoe die lewe geloop het van die skraal man wat eertyds op Genadeplaas gepreek het.

Ek vra uit oor sy suster in Boksburg en hoekom hy daar weg is, so in die winterkoue. "Nee, hy het altyd 'n geleentheid gehad saam met mense by die lughawe, maar hulle ry nie meer nie", hoor ek. Hy sukkel mos eintlik so om sy pensioen uit die mense van die lughawe te kry. Eintlik 'n skande, met die dat hy so lank gevlieg het vir hulle. Ek vra uit. "Ja, ek was lank 'n 'pilot' daar by Jan Smuts". Ek hoor van die onreg met die pensioen en voordele. Dat dit alles die nuwe bestuur se skuld is.

Ons ry verby ou YSKOR in die rigting van Pretoria-Wes. Die drie agter gesels saggies, maar ek en Gerhard se gesels het bietjie opgedroog. My kop raas, dink ek. Of is dit syne?

Is ons naby Groenkloof", vra hy. Ek verduidelik ons is al vêr daar verby. Hoekom, wonder ek. Nee, sy ander seun is in Groenkloof, ons kan hom daar ook aflaai as dit nie te vêr is nie. Ek verduidelik vervaard en dink aan omdraai, maar hy herken skielik die omgewing en bly steeds tevrede met Pretoria-Wes.

Op sy rustige sagte manier vertel hy hoe hy, na hy weg is by die lughawe, mos op die twee groot vliegdekskepe van die VSA gaan werk het. Die "USS Enterprise". En die ander ene. Daar ook gevlieg het. En toe val hy mos met 'n valskerm. In Benoni.

Die ligte van Pretoria-Wes is skielik te naby na my sin. Die verhaal het toiings gehad. Nou is dit 'n kraaines. Hier by die Sasol en KFC is reg verduidelik hy. Ek sit my flikker aan. "Is jy seker Gerhard?" Ek wil hoor of daar dalk 'n ander plek is waarheen hy wil gaan. Groenkloof? Nee, hy sal sy pad vind. "Baie dankie vir die groot moeite". Hy waardeer dit opreg. Sag. Welsprekend.

En so stilletjies-skielik verdwyn hy amper tussen die motors en mense. Pretoria-Wes. Waar sy seuns bly. Daar naby die Spar.

Ons rit na die koffieplek in Brooklyn was stil in die donker kar. "Pappa, gaan die Oom orraait wees?" Ek dink nie so nie, maar ek probeer moedig antwoord. Dis koud vanaand. Ek dink aan Genadeplaas.

Views: 190

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service