PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (4)

My herrinneringe en ervarings in Parys, Frankryk, gespieël met my nadenke oor wat dit beteken om Jesus te ontdek en te leef in die alledaagse. Of buitengewone!

Plek: Toeriste in toergroepe, oral!

Parys staan bekend as "die mooiste stad op aarde". Of dit presies waar is, weet ek nie, maar as die miljoene toeriste wat elke jaar deur die stad vloei enigsins 'n aanduiding is, kan ek dit goed glo. Daar word bereken dat ongeveer 28 miljoen besoekers jaarliks die middestad van Parys besoek. Dit is drie keer meer as die inwoners in die totale stad!.

As 'n mens deur die strate van Parys stap is dit opmerklik hoeveel toeriste in toergroepe reis. Die toerleier van die groep dra gewoonlik 'n vlaggie of banier wat hy (of sy) bokant sy kop hou sodat die toergroep lede hom kan sien en kan volg in die krioelende mensemassa, veral by die gewilde besienswaardighede. Sommige leiers het ook 'n fluitjie of so iets wat die toergroep se aandag trek as die groep weer moet aanbeweeg.

Die toergroeplede is meesal besig om 'n foto te neem, of iets moois te bekyk as die groepleier aanbeweeg, en 'n mens kry die indruk dat hulle dalk nog so 'n oomblik sou wou vertoef voor die "toer vertrek". 

My gedagtes: 

Terwy ek die groepe gadeslaan tref die gedagte my dat dit op 'n manier ook simbolies is van die manier waarop ek leef.

Ek beleef Parys anders as in 'n toergroep. Ek staan met my kaart van die stad en die paar verduidelikende boekies  in my rugsak, met geen idee wat presies die uitleg van die stad is nie maar ek is op my eie avontuur. Nie gedryf of gedring deur 'n program of toerleier nie. Ja, ek kan verdwaal, die pad byster raak, maar ek kan ook gaan waar my nuuskierigheid my lei en vertoef so lank as wat ek wil. Ek bepaal my eie pas. Soms hardloop ek vir 'n volgende belewenis, soms stap ek en soms gaan sit ek net, omdat dit is wat ek wil doen.

En ek wonder oor my eie gejaagdheid? Wie of wat dryf of stuur my dag en handelinge? Ambisie, vrees, begeerte, angstigheid, drome, ideale, belangrike mense, openbare opinie, die mode, kooplus of wat ookal? Ek is soms so "aangedryf" soos 'n dier deur dinge/mense in my lewe, dat ek die wonderlike avontuur van leef mis.

Miskien is dit tyd dat ek uittree uit my eie persoonlike "lewens toergroepe" en met God se kaart (Sy Woord) in die hand, begin om 'n eie roete te loop. Saggies gelei deur die fluisterstem van Sy Gees. Oe en ore wawyd oop om te sien en te beleef wat in die "NOU" daar is. Vry om te stap, te hardloop, of te wag ... soos die situasie vereis. Ongedrewe, maar geroep en gestuur op reis.

'n Teks:

Jakobus 1: 5-8

5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. 6 Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. 7-8 So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

'n Vraag:

Wat dryf, of jaag my? Waaraan is ek uitgelewer en het ek beheer oorgegee? Hoe sal dit wees as ek aan die Gees die beheer van my lewe gee en op Sy ritme reis? 

Views: 220

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service