PvR Geloofsfamilie

Volgelinge van Jesus - Mense van Sy Missie!

Een van die lekkerste voorregte van die ervaring wat ek en Hester die afgelope tyd het is vlieg. Ja, vlieg!

Ons leef in 'n tyd van lugvervoer waarmee die hele aarde eintlik bereikbaar geword het. Daar is fantastiese, luukse vliegtuie wat honderde passasiers, elkeen met sy/haar eie persoonlike reisplan, kan neem op avontuurlike ervarings vol romantiek en verassings.

Op die vliegtuig is daar bemanning en bedienaars. Die bemanning is verantwoordelik vir ons veiligheid en om te verseker dat die reis so glad en sonder turbulensie verloop. Daar is ook bedienaars wie se werk dit is om seker te maak dat min of meer enige behoefte wat ons mag ontwikkel bevredig word en dat ons met net die beste voedsel en vermaak bederf word gedurende die reis. Ons het darem duur betaal daarvoor!

Aan die einde van die reis laat ons die vliegtuig, bemanning en bedienaars agter met 'n glimlag en(soms) 'n dankie. Klaar weer gefokus op ons persoonlike reisplan, tot ons weer moet gebruik van die vriendelike lugredery en sy mense.

So tussen lughawens en vliegtuie raak ek toe aan die dink. Ek wonder toe daaroor of dit nie ook die manier geword het wat ons moderne mense dink oor die kerk, kerkwees en Christenwees nie. Dit lyk vir my of, vir die meeste van ons, die kerk soos 'n besondere mooi en groot passasiersvliegtuig geword het. Kom ek probeer verduidelik.

Ons maak van die kerk gebruik wanneer en indien dit inpas in ons persoonlike lewensreis. Wanneer ons daarvan gebruik maak wil ons graag die plek inneem wat ons geboek het en waarmee ons gemaklik is. Ons verstaan die predikant se rol as een waar hy/sy moet verseker dat ons nie net veilig by die bestemming van ons keuse aankom nie, maar dat die reis verkieslik sonder enige turbulensie plaasvind. Ons verwag van hulle om die eredienste en ander byeenkomste so in te rig dat dit aan ons persoonlike behoeftes voldoen en dat daar nie enige onverwagte/onaangename ervarings met ons gebeur nie. Ons verwag om versorg te word deur die bedienaars wat deel is van die verskillende bedieninge en voel te na gekom wanneer daar nie aan ons behoeftes bevredig aandag gegee word, presies volgens ons verwagting nie.

Wanneer dinge skeef loop en ons dalk 'n probleem het verwag ons van die bemanning en bedienaars om ons te hulp te snel en seker te maak dat ons die probleem so gou as moontlik oplos. Wanneer daar 'n ander passasier in ons omgewing 'n probleem het, roep ons een van die bedienaars om dit uit te sorteer. Hulle word per slot van rekening daarvoor betaal, en hulle het tog gekies om die werk te doen, dan nie?

In dieselfde asem verwag ons die beste, lekkerste voordele en ook soms spyseniering. Ons verwag ook die beste vermaak met die wydste moontlike verskeidenheid van keuses om seker te maak dat ons nooit verveeld of gefrustreerd is nie. Dit alles terwyl ons rustig agteroor sit en passief deur die venster kyk na die uitsig.

Ek weet nie van jou nie, maar ek sien by baie mense (en ook in myself) hierdie siening van die kerk. Ek raak ook stadig maar seker al hoe meer ongemaklik daarmee, want ek verstaan dat dit glad nie is wat Jesus bedoel het Sy liggaam moet wees nie.

In my soeke na 'n metafoor vir Jesus se perspektief op die kerk sien ek al die verskillende beelde wat hy gebruik vir die kerk in sy Woord en ek besef nog meer en dringender dat ek moet soek na 'n moderne beeld om die kerk te verstaan en te verduidelik vir ander.

Die bedoeling van Christus met sy volgelinge was nie om 'n statiese, burokratiese struktuur of sisteem te skep waarbinne mense gevange gehou moet word nie. Die kerk was (en is veronderstel om steeds te wees) 'n lewende, dinamiese .... beweging van mense wat Jesus volg.

My gedagtes gaan toe baie vêr terug, na my weermagdae. 'n Goeie vriend was die dienspligkapelaan by die Valskermbataljon in Bloemfontein. Ek was die Pantserskool se dienspligkapelaan en ek het gehoop op 'n geleentheid om saam te vlieg wanneer sy troepe wat die "springkursus" doen, hulle eerste valskermsprong doen. Hy sou kyk wat hy kon doen en toe kom die oproep met die plek en tyd. Ek was in!

Die ervaring daardie dag was een van die beste van my lewe. Op die grond voor die vliegtuig opstyg was daar 'n ongelooflike energie, gees en doelgerigtheid by die voornemende valskermsoldate. Ek het van tyd tot tyd by Johan se eenheid gaan inloer en was altyd begeesterd met die passie van die troepe. Hier was hulle opgelei, gereed en reg om te gaan en hulle was gefokusde kamerade op 'n missie! 

In die vliegtuig het hulle uit volle bors gesing en mekaar aangemoedig. Toe die kruishoogte bereik word het die leiers agter in die ruim begin besig raak en begin seker maak dat elke soldaat se valskerm kabel reg vas was. Die bevele het gevlieg. Die troepe het opgestaan en elkeen die man voor hom se toerusting nagegaan. Hulle het teen mekaar gestaan in hulle springformasie. Hand op die skouer van die manskap voor. Die leiers het gemotiveer, aangemoedig en gefokus. Die gesigte was wit, die kneukels witter en die harte het in die keel geklop. Rooi lig .... GROEN LIG! Een, twee, een twee .... doelgerig vorentoe! Die personeel by die deur gee die laaste vurige aanmoediging, dan staan die witgesig seun met die man se werk in die deur en WEG is hy!

Terug op die grond was die uitbundigheid onblusbaar. Ons het oorleef! Ons het dit gemaak! Nou is dit valskerms optel, opvou en terug op die vragmotors. Ons gaan weer. ... en weer. Want op 'n dag nie lank van nou af nie, gaan ons spring oor 'n doelwit. Dan spring ons met wapens en ammunisie ... manne met 'n missie.

Die vlieeniers sal dan die ruitverwysings ken waarheen die vlug oppad is. Die soldate sal op die vlug wees as deel van die aanvalsplan van die Generaal, en die loods neem hulle soontoe. Die leiers ken die gevegsplan en het seker gemaak dat die soldate die ingesteldheid en vaardighede het om dit uit te voer. Die personeel verseker dat die soldate aangevuur en ingelig is. Die soldate het op die vliegtuig gegaan, om uit te spring. Lank voordat die vliegtuig land. Deel van die groter plan. Elkeen verstaan sy/haar funksie. Elkeen is opgelei na die beste van sy/haar vermoe en talente. Elkeen gefokus op sy bydrae, binne die groter gevegstrategie.

Dis waarom hulle hier is. Dis wat hulle doen en waarmee hulle goed is. En die spangees, ervaring en saam swaarkry, bang wees en bly wees smee verhoudings wat vir altyd hou. Dit bou 'n band wat sigbaar is voor, tydens en na kontak. En ook vir jare daarna. In die tatoeermerk op die bo-arm. Die songebleikte petjie met die embleem van die Bataljon en die trane wanneer hulle mekaar weer sien.

Ek wonder, is dit nie wat Jesus bedoel het toe hy Sy volgelinge gestuur het om as Sy liggaam te leef nie? Predikante wat 'n groep volgelinge doelgerig stuur in die rigting van die doelwit en hulle in posisie plaas om Sy koninkryk te laat kom.

Maar hulle verstaan dat Sy koninkryk nie kom in Sy wereld net in die saamwees tydens eredienste, bedieningsgeleenthede of ander byeenkomste nie. Dit is net om ons in posisie te bring. Om gelanseer te word. Om ons missie binne Sy Missie te verstaan. Sodat ons kan spring wanneer die groen lig aangaan. In Sy wereld in. In ons lewe in. Sodat ons skouer aan skouer kan beweeg binne die gevegsplan van die Generaal. En as ons na die veldslag weer bymekaar is, lek ons wonde en vier oorwinnings. Lag ons saam oor die vreugde en treur ons saam oor die verliese. En help mekaar. Met oorlogstories. Sodat ons weer kan gaan..... en weer

Dit is Jesus se bedoeling .... Hy het drie keer vir Sy dissipels gese "Gaan". In Lukas 10:3 is hulle (ons) gestuur om Vrede te gaan lewe. In Lukas 9:12-17 stuur Hy hulle (ons) om die menigte kos te gee. In Matteus 28:19 stuur Hy hulle (ons) om dissipels te maak.

Ons Geloofsfamilie verklaar dat "Ontdek en Leef Christus" ons verstaan is van die Vader se gevegsplan. Daar is nie passasiers in hierdie prentjie. Daar is net "aktiviers". Weliswaar, party van ons is gewond, gedaan, gebroke en soms moedeloos. Maar ons beweeg saam, want ons dra mekaar. Ons hou mekaar vas. Ons moedig mekaar aan. Want nounou moet ek vra, vir dra.

Gesels gerus saam met my oor jou verstaan van kerkwees en hoe jy jouselfin die prentjie sien

 

Views: 880

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Geloofsfamilie om kommentaar te lewer!

Join PvR Geloofsfamilie

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 22:07
Ek het al baie die laaste tyd vir myself die vraag gevra - as Jesus vandag hier op aarde en in ons gemeenskap sou wees, sou Hy by ons in Pierre van Ryneveld aansluit as mense wat besig is om sy droom te leef? Of sou hy se ons is die witgepleisterde grafte? En ek beleef ook daardie ongemak - is ons genoeg van 'n verwelkomende gemeenskap, 'n gemeenskap waar enige mens welkom voel en wil deel word? Is ons braaf genoeg en waag ons genoeg - of is ons te gemaklik in ons comfort zone? Wel, dit raak 'n baie uncomfortable comfort zone.

Nuusflitse

Bestel nou vars vleis tot 30 April vir aflewering by kerk in week van 2 Mei.

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2018   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service